Wie is Riviera-Jakaranda?

Met die Woord as anker en onder leiding van God Drie-enig, is Riviera-Jakaranda ’n relevante gemeente met oë wat rááksien, harte wat omgee en hande wat dien.

‘n Teks wat al  jare lank deel van ons gemeentestorie is, is Esegiël 47. Dit gaan oor die visioen wat Esegiël gesien het hoe die water wat uit die tempel stroom, so sterk geword het dat die hele omgewing van die tempel tot die Dooie See lewe gekry het. Ons het besef dat hierdie stroom die teenwoordigheid van God self is. Daarom sê ons:
Die Woord is ons anker. Ons leef en werk onder leiding van God Drie-enig.

In hierdie teks het ons drie kernwaardes ontdek:

  • Oë wat rááksien – In Esegiël 47:6 vra die man in die visioen vir die profeet: Sien jy dit, mensekind? Ons leer om te sien soos God sien: om Sy teenwoordigheid in ons lewens ráák te sien, maar ook die nood, vreugde en seer rondom ons.
  • Harte wat omgee – Ons is daaraan herinner dat God se water lewe bring waar dit droog en dood is. In Esegiël 47:10 sien ons iets van God se oorvloedige voorsiening. Waar God se water vloei, kom lewe. Ons word geroep om met sagtheid en deernis teenoor ander op te tree en die oorvloed van God se liefde uit te dra.
  • Hande wat dien – Waar die stroom kom, is daar lewe. Bome dra dwarsdeur die jaar vrugte (Esegiël 47:12). Wanneer ons deur God se stroom gevoed word, kan ons nie stilbly nie. Ons word ’n gemeente in aksie: wat dien, vrug dra en lewe bring waar ons gaan.

Waarop fokus ons in ons gemeente?

Ons het vier fokusareas geïdentifiseer wat as rigtingwysers dien vir alles wat ons doen:

  1. Verhouding met God en geestelike vorming – Alles begin by ons verhouding met God. Deur eredienste, gebed, musiek en ander vormingsgeleenthede word ons geloof gevoed.
  2. Onderlinge verhoudings en sorg – Ons bou aan ’n gemeente waar mense mekaar ken, waardeer en dra, veral in tye van nood.
  3. Lewensvoorbereiding en vorming – Ons help lidmate om vaardighede en gewoontes te ontwikkel wat hulle toerus om sinvol en standvastig te leef.
  4. Missionale uitreik – Ons leef nie net vir onsself nie. Ons sien die nood in die wêreld raak, bring hoop, spreek onreg aan en werk saam met ander om ’n verskil te maak.