Eiendomsbediening

Om die kerk en eiendomme in stand te hou, te verbeter en ontwikkel.

Met ywer en toewyding probeer ons om nie net die kerk en eiendomme in stand te hou nie, maar ook te verbeter en ontwikkel.

Vanjaar het ons by die Lysstraat-pastorie plafonne vervang, motorhuisdeure herstel en waterdigtings- en dakprobleme aangepak.

Die kosterhuis in Rosestraat was nie in ʼn goeie toestand nie en uitgebreide restourasiewerk is daar gedoen om die pragtige huis in sy volle glorie te herstel. Dit het werk aan die dak, houtvloere en stoep, verfwerk en waterdigting, die geiser en veiligheidshekke ingesluit.

Die buitegeboue van die huis langs die kerk is in ʼn behoorlike eenslaapkamer-woonstel omskep. Daar is o.a. ʼn muur uitgebreek, die badkamer, kombuis en vloere is geteël, die bedrading herstel, deure vervang en kaste en rakke ingebou.
Die laasgenoemde twee projekte is grotendeels deur ʼn gesin in die gemeente behartig.

Op die kerkterrein is nou baie instandhoudingswerk nodig. Die kerk- en saaldak moet dringend herstel word asook die stoep se plafonne, ligte en geute en die kantore binne. Verfwerk is ook nodig.

Die sekuriteitsstelsel is opgegradeer ná groot skade op die terrein weens ʼn vlaag misdaad. Ons beoog ook om ʼn elektriese heining aan te bring omdat die terrein as deurgang deur misdadigers gebruik word.

Hier is dus duidelik ʼn magdom onderhoudswerk ter sprake wat deurgaans gedoen moet word.

Hester Booysen

Hester Booysen

Voorsitter van Eiendomsbediening