Aanbidding- en Kommunikasiebediening
Die volgende subbedieninge ressorteer onder die Aanbidding- en Kommunikasiebediening: Erediens, Kommunikasie, Liturgiese ruimte en organisering, Musiek en Virtuele dienste.
EREDIENS
Erediensbediening het as fokus dit wat in die hart van ons gemeente lê, te wete eredienste en ander aanbiddingsgeleenthede. Sondae se erediens is altyd ʼn hoogtepunt, waartydens ons as gemeente ʼn ontmoeting met die Here het. Hierdie bediening stel hom ten doel om na alle fasette van die eredienste in die gemeente te kyk. Die bediening is ook daar om na te dink oor die wyse waarop ons aanbid en hoe ons dit nog beter kan doen. Binne hierdie bediening word sake hanteer soos week van gebed, Pinkster, Lydenstyd, ander spesiale eredienste, gewone eredienste, musiekbediening binne die gemeente, dekor in eredienste ens.
Kerkraadsverteenwoordiger: Vakant
KOMMUNIKASIE
Sonder kommunikasie kan geen gemeente na behore funksioneer nie. Of dit nou gaan oor erediensbesonderhede, reklame vir die basaar, wildsfees of Kersmark, die bekendstelling van opbou- of uitreikgeleenthede of inspirerende brokkies oor die doen en late van lidmate — noem maar op — inligting moet gekommunikeer word. Hierin speel die almanak, MaandNuus, Familiebrief en webwerf al lank ʼn onontbeerlike rol. Met die ontwikkeling van tegnologie het nuwe kommunikasiemedia egter beskikbaar geraak en nie meer net gedrukte publikasies, plakkate en baniere nie, maar ook dataprojektors, e-posse en whatsapps word ingespan. Al meer lidmate kry reeds die Familiebrief en MaandNuus elektronies, terwyl inligting, boodskappe en foto’s ook op ons webruimte en Facebook-blad beskikbaar is. Ons wil voortdurend op hoogte bly van ontwikkelinge op kommunikasiegebied om die sinvolste diens aan lidmate en belangstellendes te kan lewer. Die moontlike rol van Kunsmatige Intelligensie word daarom ook ondersoek.
Kerkraadsverteenwoordiger: Heinrich Ohlhoff
LITURGIESE RUIMTE EN ORGANISERING
Die primêre fokus is die liturgiese ruimte (waar die erediens plaasvind).
My doelwit is om die verskillende seisoene van die kerklike jaar in die verskillende kleure uit te beeld en ʼn rustige en eenvoudige, dog stylvolle atmosfeer te skep.
Kerkraadsverteenwoordiger: Talita Oberholster
MUSIEK
Die musiekbediening fokus op die atmosfeer van die erediens. Om ‘n diep geestelike atmosfeer te skep, word daar gebruik gemaak van instrumente, musiekopnames en verwerkings van bekende Liedboek-, Flam- en Vonkk liedere. Instrumentale musiek is veral belangrik om ‘n spesifieke gevoel binne die erediens te skep. Musiek word ook buite die erediens gebruik om ons sosiale geleenthede meer gesellig te maak.
Kerkraadsverteenwoordiger: Henri Uys
VIRTUELE DIENSTE
Die virtuele erediensbediening fokus op die direkte uitsending en opnames van ons eredienste. Hierdie fasiliteite is ook beskikbaar vir ander dienste, en die direkte uitsendings is redelik gewild met roudienste. Die bediening is ook verantwoordelik vir die instandhouding en opgradering van die tegnologie wat die kerk benodig om steeds dié soort diens te kan lewer.
Kerkraadsverteenwoordiger: Sean Macmillan