Kommunikasie-bediening
Inligting vir ons gemeente
Sonder kommunikasie kan geen gemeente voortbestaan nie. Of dit nou gaan oor erediensbesonderhede, reklame vir die basaar, wildsfees of Kersmark, die bekendstelling van opbou- of uitreikgeleenthede of inspirerende brokkies oor die doen en late van lidmate — noem maar op — inligting moet gekommunikeer word.
Hierin speel die gedrukte almanak, die 7 Dae Nuus en die Familiebrief al lank ʼn onontbeerlike rol.
Met die ontwikkeling van tegnologie het nuwe kommunikasiemedia egter beskikbaar geraak en nie meer net gedrukte publikasies, plakkate en baniere nie, maar ook dataprojektors, e-posse en massa-SMS’e, word ingespan. Al meer lidmate kry reeds die Familiebrief elektronies, terwyl inligting, boodskappe en foto’s ook op ons webruimte en Facebook-blad beskikbaar is. ʼn Virtuele toer van die gemeente se aktiwiteite en fasiliteite word selfs in die vooruitsig gestel.
Ons wil voortdurend op hoogte bly van ontwikkelinge op kommunikasiegebied om die sinvolste diens aan lidmate en belangstellendes te kan lewer.
Tans bestaan die Bediening uit die volgende lede: Heinrich Ohlhoff (voorsitter), Fanie Cronjé, Paul du Plessis, Ilse en Theo Geldenhuys, Elsa Hendriks, Anica Jordaan, Carol Lombard en Hetta Pieterse.
Enigeen wat belangstel/opgelei is in (visuele en elektroniese) kommunikasie of die media en betrokke wil raak (veral millenniërs en Generasie Z-ers/”Screen-agers”) kan Heinrich kontak.
